Persverklaring: #UikykAnties in aksie, Rondomskrik in die Kaap
- lootsbarbara
- Nov 6, 2014
- 3 min read
Wordsmith’s Theatre Factory en ABSA KKNK, met ondersteuning van die LW Hiemstra Trust, bied aan Rondomskrik. Een van die gunsteling aanhalings van regisseur Hennie van Greunen oor die teater kom van die hoof van die San Francisco Playhouse, Bill English, “Teater is soos ‘n gim vir empatie.”
Jasmien Jacobs is haar lewe lank al ‘n onderwyser: eers in Bonteheuwel en toe in ‘n klein dorpie tussen die Karoo en die Overberg – Rondomskrik. In haar werk het haar pa se fakkel probeer dra – hy het vir haar geleer dat al wat jy ‘n kind moet leer, al wat jy ‘n kind moet leer, is hy kan uitkom. Wegkom. Sy lewe beter maak.
Dan ontmoet sy vir Antjie Fortuin, op haar siegretbeentjies met haar hakkelende boetie aan die hand en ‘n vlam wat nog brand in haar ogies. En Jasmien probeer – tussen die gangsters, die alkohol, die hop-huisies, die afwesige ouers. En dan, daardie Vrydagaand, is daar ‘n perfekte samekoms van boosheid, van ongeërg wees, van wegkyk.
Die teks neem die moord en verkragting van Anene Booysen as vertrekpunt in hierdie splinternuwe toneelstuk wat snaaks, hartseer en bo alles deernisvol en hoopvol is, en kyk na hoe ons mense ons kinders faal. En hoe om te sorg dat kinders nie net oorleef nie, maar vlerke kry.
Sedert die eerste produksie van Rondomskrik by die KKNK in Maart vanjaar is die idee van ‘n #UitkykAntie besig om vinnig veld te wen. John Fourie, ‘n plaasbestuurder van Clanwilliam, het Rondomskrik in Mei by die 2014 Cederbergfees gesien. Hy het onmiddellik aanklank gevind by Rachelle Greeff se ontroerende storie van hoe ons ons kinders faal, want dis sy lewenstaak om uit te kyk vir mense wat swaarkry op die rand van ons gemeenskappe: dwelmafhanklikes, straatkinders en haweloses. Mense ken hom vir sy onbaatsugtige empatie.
Ná die vertoning het hy Hennie se kontakdetails gekry en dit was nie lank nie of die uitnodiging arriveer: “Kom speel asseblief hiermee in die gemeenskapsaal op een van die plase. Kinderverwaarlosing is endemies op baie plase en ons gaan probeer om soveel plaaswerkers daar te kry as wat ons kan.”
Die Driefontein Kleinboere Ko-op is een van die grootste plase in die distrik. Dié plaas én sy arbeiders – kleinboere in eie reg – probeer ondanks uiters moeilike sosiaal-maatskaplike kwessies ‘n volhoubare verskil maak in hul onmiddellike en wyer omgewing. Ook hier ly en sterf kinders as gevolg van alkoholverwante probleme en kinderverwaarlosing. Die ondervoorsitter van Driefontein Victorie Pienaar, alias Ant Toot, is ‘n volboed #UitkykAntie. Sy het eiehandig etlike produksies saamgeflans en na buurplase geneem.
Die uiteinde is dat die hele Rondomskrik-span – spelers, tegnici én stel – op 31 Oktober terugtrek Clanwilliam toe. Maar dié keer plaas toe, om daardie aand vir die plaaswerkers te speel.
Ná die opvoering kan enigiemand in die gehoor deelneem aan ‘n vraag-en-antwoord sessie met die spelers en regisseur. Lede van die polisie, maatskaplike werkers en onderwysers van die uitstekende plaaslike gemeenskapskole, Sederberg Primêr en Sekondêr, waar die plaaskinders skoolgaan, gaan die Rondomskrik-span tydens dié sessie bystaan.
Die doel is om mense te kry om ‘n ‘n veilige ruimte oor kinderverwaarlosing te praat. Terselfdertyd gee dit die professionele span van die omgewing die kans om met praktiese oplossings vorendag te kom.
So vervul Rondomskrik dan ‘n funksie van nie net inlig en vermaak en uitwys nie, maar ook help met die proses van heling.
Aan die teenoorgestelde kant van die Wes-Kaap is nog ‘n #UitkykAntie wat deur middel van teater haar gemeenskap emosioneel gesond en sterk wil maak. Marthelene Matthysen, gemeeskapswerker en bestuurslid van die Kaap Agulhas Sakekamer, het na ‘n gesprek met die skrywer van Rondomskrik, Rachelle Greeff, besluit dis noodsaaklik dat die mense van Bredasdorp (waar Anene Booysen gewoon het) die toneelstuk sien.
Sy het Wordsmith's Theatre Factory gekontak en die teaterwiel aan die rol gesit. Op Saterdagaand, 1 November, speel die produksie in ‘n skoolsaal op die dorp – vir die gemeenskap wat vir Anene geken het en steeds sukkel om die herinnering aan haar afgryslike dood te verwerk.
Hier word ook ‘n vraag-en-antwoord sessie gehou, onder die leiding van ‘n plaaslike maatskaplike werker.
En so word die “gim vir empatie” se deure vir die Bredasdorpenaars en omliggende Overberg oopgegooi.
Dié twee uitsonderlike optredes word gevolg deur ‘n drie-week speelvak by die Baxter Teater in Kaapstad (5 – 22 November).
Rondomskrik:
Regie: Hennie van Greunen
Teks: Rachelle Greeff
Ontwerp: Nico Scheepers
Rolverdeling: Shaleen Surtie-Richards, Lee-Ann van Rooi, Crystal Donna Roberts and Richard September.
Verhoogbestuurder: Maryke van Jaarsveld
Vervaardig deur Pedro Kruger vir Wordsmith's Theatre Factory
Rondomskrik se eerste optrede was by die ABSA KKNK op 29 Maart 2014.
Vir verdere informasie, kontak Hennie van Greunen by henniewtf@mweb.co.za of 082 374 9243.
Persverklaring verskaf deur Hennie van Greunen.
Comments